Ongelooflik om te sien hoe hierdie klein wonderwerk mens word.
Ons ry Saterdag met Lynnwoodweg terug huis toe, en skielik roep sy uit: "Kyk, mamma! Daar's die sirkus!" En jou waarlik, toe ek opkyk, is die Boswell Wilkie sirkustent in 'n oop veldjie langs die pad opgeslaan. Natuurlik maak ek toe 'n u-turn, en ons probeer kaartjies koop vir die vertoning. Wat toe amper klaar is, en ons word nie binne toegelaat nie. Toe draai ons by al die diere se hokke, en loer deur die tent se opening om die hanswors met die rooi neus te sien...
Sy praat toe die hele middag en aand van die sirkus, en ek belowe om haar gister te vat. Ek kan jou nie die ekstase beskryf toe ek haar half drie gistermiddag saggies wakker maak om sirkus toe te ry nie. Sy het met haar vuisies in die kussing geslaan, en, nog in haar slaap, met 'n hees stemmetjie geskree "O, jippieeeeeee mamma jippieeee!!!!!" Mag ek dit nooit ooit vergeet nie.
Ons het al die bells en whistles gehad: toffie-appels, spookasem, 'n paar draaie op die mallemeule (ek het geen keuse gehad nie - sy het haarself tussen al die ander kinders deurgewriemel, OP DIE GROND verby die kaartjieverkoper ge'leopardcrawl' om heel eerste in die karretjies te klim. Toe staan ek maar 2 keer in die tou om namens haar te betaal...! Dis tye soos hierdie dat ek besef sy gaan either way 'n manier vind om haar ding gedoen te kry. Innoverend is sy absoluut. Op twee en 'n half.
Sêgoed vir die maand:
Op 'n emmer, in die middel van die sandput by die kleuterskool, met al die maatjies op die grond onder haar: "Tant Sannie kan ma nader lê, tant Sannie kan ma nader lê... Die gras is groen en EK WIL SOEN (uitgegil), tant Sannie kan ma nader lê..."
As haar spaarvarkie vol is, gaan mamma haar bank toe vat en dan gaan sy die geld vir die bank gee, en dan gaan die bank vir haar ook 'n geldkaart gee soos mamma s'n en dan gaan sy die geldkaart vir die tannie in die winkel gee en dan is alles in die winkel hare en gaan sy alles huis toe bring. Hee-hee!!!!
Subscribe to:
Post Comments (Atom)

No comments:
Post a Comment