Saturday, August 29

Pikkegraaf

Miekie het onlangs net weggetrek en laaaang sinne begin praat. Die gebruik van voorsetsels en adjektiewe is baie goed.  Binne-in, rondom, langsaan, vorentoe - daai soort van ding.  Maar perfek in sinkonteks gebruik.
Dan raak sy ook allerhande oulike goedjies kwyt wat sy nou maar so oral optel.  Vanoggend sê sy vir Japie: "Pappa, help my, ek's in 'n strik".

Ons het groot prints van die Brooklynbrug en Chryslergebou in die TV kamer opgehang, en 'n week later kap sy ons - "kyk, dit is New York".

Dan glo sy Barnie maak elke Saterdagoggend sy rondtes van een kind se huis na die volgende.  Sy sal vra wanneer kom Barnie nou na ons TV toe, dan sal ek sê hy trek eers sy skoene aan en borsel sy tande, en sy moet nog 10 minute vir hom wag.  Dan sê sy nee, Barnie is nou by Katelyn se huis, of by Colin se huis, en sal sy geduldig wag vir die groot oomblik.

Sjokolademelk feature groot op die oomblik. Sy sal in die nag wakker word en begin yl - sjokolademelkies - dis die eerste onderwerp van die oggend, en die laaste gedagte voor sy gaan slaap, en ek tel op dat dit ook haar eerste gedagte is die oomblik wat sy verveeld raak.

Japie het haar nou al sy army truuks geleer, en sy ken al die terme en kan elke move seepglad illustreer:

Pikkegraaf - kap met die kneukels teen die borsbeen
Hoenderkos - ook 'n intense borsbeen aksie - op en af met die kneukels oor die ribbe.
Apiegryp - knyp die sening tussen die nek en skouer met die duim en middelvinger
Donkiebyt - die armdraai wat almal ken
Sonbesie - 'n taai klap op die oordrom
Krappieknyp - knyp die kuitspier met die bak hand
Konynkap - 'n geniepsige kap agter die nek met die kant van die hand

Sy sal byvoorbeeld van agter af op my afgesluip, en sê: "mamma, buk vorentoe met jou nek. Ek wil jou 'n konynkap gee."

Soveel dae, soveel dinge.

Sunday, August 23

Fishing for Jesus

Miekie het vanoggend laat geslaap nadat ons gisteraand by Gert & Alrea-hulle gaan kuier het, en sy natuurlik met Willie en Michelle se kinders gespeel het tot laat.

Sy het uit die niet gisteraand, voor al die kuiergaste, ewe formeel die tafelgebed oorgevat: "Op my stoeltjie sit ek nou, met my handjies saamgevou. Liewe Jesus vir my dank, vir my kossies... en my drank. Amen." Het ons nie gelag nie!

Sy het Milan se handsak geannekseer en dit heelaand vir lewe en dood vasgeklou. So aan die slaap geraak op die bank.

Vanmiddag na ete het sy haarself aan die slaap gesing met "Fishing for Jesus, fishing for Jesus, fishing for Jesus every day. Met my Bybel in my hand, en ...." - kon nie die res uitmaak nie, maar dit wissel ewe vlot tussen Afrikaans en Engels. Nooit eers geweet sy kan nie! Die Engelse aksent is kostelik!

Vanoggend was dit weer: "My God is so groot, so sterk en so MAGTIG (dit skree sy lekker kras uit), daar's NIKS wat my God nie kan doen!"

So - Palet maak seker die kinders kom met die regte sêgoed huis toe!

Sêgoed vir die dag: 
Piepsie en Poepsie (die name van haar 2 vuil doeke)
Feëtjieland (toe sy die vuurhoutjies terugpak in hul boksie, uitgespreek "mamma, kyk ek pak die 'fie'tjies (vuurtjies) in 'fietjie'land)