Thursday, January 13

Sêgoed op 3 en 'n half

In 'n droom:  "Cella, ek hou baie van vasknypertjies, en daai is 'n vasknypertjie, sien jy?"

Vasknypertjie, menende die knyper waarmee jy papiere aanmekaar vasknyp.

__________________

"Mamma, die hangdingetjie agter my feëtjiekamer se deur pyl nou deur my hoed, en nou hang my hoed daar."

Menende sy het nou haar strooihoed oor die haak agter haar deur opgehang.

__________________

Oppad terug van die Kaap af, stop ons oor op Oudtshoorn om vir haar 'n regte volstruiseier te koop.  Sy wil weet of daar 'n klein kuikentjie binne-in die eier is, en as sy op die eier sit en dit lekker warm hou, of die klein baba volstruisie dan sal uitbroei. Ek verduidelik dat daar nie 'n kuikentjie in is nie.  Sy vra hoekom nie, want hoe word die baba volstruisie dan gebore? Ek hmm en haaa en sê toe daar is nie 'n saadjie in hierdie spesifieke eier nie, so die kuikentjie kan nie binne-in die eier groei nie.  Sy vra  hoekom is daar dan nie 'n saadjie in hierdie spesifieke eier nie.  Hmmm.  Haaaa.  Hmmm... en voor ek nog kan dink hoe om nou verby hierdie een te kom, haak sy af: "toemaar mamma, ek verstaan.  Hierdie is 'n MAK eier."

Verbeel jou!