Thursday, November 26

Sunday, November 22

34 grade in Stellenbosch

Ons is oppad Kaap toe vir die naweek, terwyl dit storm en sous in Pretoria.  Om die regte klere in te pak, kyk ek gou op DsTV se weerkanaal wat ons kan verwag.  Ek skree vir Japie  in die kamer: 'nee, man - dis 30 grade in die Kaap, en 35 grade in die Paarl...' en net daar kom Miekie toe in met: 'en 34 grade in Stellenbosch!'  Hilarious!

Vanoggend gee ons vir haar roereiers vir ontbyt, maar sy eet net die helfte... te opgewonde om by die strand uit te kom.  Toe ons 'n paar uur later weer by die huis aankom, sien sy haar bord op die tafel, en sê: 'ek het skoon vergeet om hierdie wonderlike kossies te eet'!

Laas week vat ek haar saam slaghuis toe, en koop 30 lamstjops, waarvan die slagter toe die beentjies vir my skoonmaak.  Miekie sit by my in die trollie en kyk hoe die oom te werk gaan.  Soos wat die oom die skaapvleis in 'n groot houer vir my aangee, vra sy: 'mamma, wat is hierdie?' en ek antwoord: 'dis skaapvleis'.  Sy kyk die vleis vir 'n hele rukkie uit, en wys toe na die oom: 'mamma - is daardie oom die skaapwagter?'  Needless to say het die mense agter ons in die ry net so gelag soos ek!

Baie 'wise' vir haar twee en 'n half.

Sunday, November 8

Independence Day


Vanoggend begin ek op 'n stadium wonder hoekom Miekie so stil is.  Ek begin na haar roep, en staan later op om haar te gaan soek.  Ek soek die hele huis deur, maar alles is stil soos die graf.  Ek word toe yskoud en gaan buitentoe (daar is veral een baie gevaarlike plek waar sy van die stoep af kan val) en soek reg om die huis, in die motorhuis en agter die buitegeboue.  Geen Miekie nie. 

Ek besef sy is NIE op die erf nie want ek het oral gesoek.  Stil van histerie gryp ek die hek se sleutels en hardloop teen ons 60 meter inrypad op, maak die hek bo oop en gaan soek haar in die straat.  Nodeloos om te sê smeek ek vir haar veiligheid.

Daar sien ek haar toe - heel onder in die straat - op die sypaadjie nogal - op haar karretjie wat sy 60m ver teen die inrypad opgery het. 

Om 'n lang storie kort te maak - sy het haar pa se bos sleutels van sy lessenaar af gevat, my kredietkaart uit my beursie, uit my handsak gehaal, dit netjies in haar klein handsakkie gepak, op haar kar geklim en die pad gevat.  Self die hek oopgemaak met die remote, betyds met haar kar deurgery voor die hek toegemaak het, en 100 meter af in die straat gery 'winkels toe'.

Dit was 'n eerste vir ons, en net weer 'n reminder dat ons haar nie vir 'n oomblik kan onderskat nie.

SUG.





Monday, November 2

Sirkus

Ongelooflik om te sien hoe hierdie klein wonderwerk mens word.

Ons ry Saterdag met Lynnwoodweg terug huis toe, en skielik roep sy uit: "Kyk, mamma!  Daar's die sirkus!" En jou waarlik, toe ek opkyk, is die Boswell Wilkie sirkustent in 'n oop veldjie langs die pad opgeslaan.  Natuurlik maak ek toe 'n u-turn, en ons probeer kaartjies koop vir die vertoning.  Wat toe amper klaar is, en ons word nie binne toegelaat nie.  Toe draai ons by al die diere se hokke, en loer deur die tent se opening om die hanswors met die rooi neus te sien...

Sy praat toe die hele middag en aand van die sirkus, en ek belowe om haar gister te vat.  Ek kan jou nie die ekstase beskryf toe ek haar half drie gistermiddag saggies wakker maak om sirkus toe te ry nie. Sy het met haar vuisies in die kussing geslaan, en, nog in haar slaap, met 'n hees stemmetjie geskree "O, jippieeeeeee mamma jippieeee!!!!!" Mag ek dit nooit ooit vergeet nie.

Ons het al die bells en whistles gehad:  toffie-appels, spookasem, 'n paar draaie op die mallemeule (ek het geen keuse gehad nie - sy het haarself tussen al die ander kinders deurgewriemel, OP DIE GROND verby die kaartjieverkoper ge'leopardcrawl' om heel eerste in die karretjies te klim.  Toe staan ek maar 2 keer in die tou om namens haar te betaal...!  Dis tye soos hierdie dat ek besef sy gaan either way 'n manier vind om haar ding gedoen te kry.  Innoverend is sy absoluut.  Op twee en 'n half.

Sêgoed vir die maand:

Op 'n emmer, in die middel van die sandput by die kleuterskool, met al die maatjies op die grond onder haar:  "Tant Sannie kan ma nader lê, tant Sannie kan ma nader lê... Die gras is groen en EK WIL SOEN (uitgegil), tant Sannie kan ma nader lê..."

As haar spaarvarkie vol is, gaan mamma haar bank toe vat en dan gaan sy die geld vir die bank gee, en dan gaan die bank vir haar ook 'n geldkaart gee soos mamma s'n en dan gaan sy die geldkaart vir die tannie in die winkel gee en dan is alles in die winkel hare en gaan sy alles huis toe bring.  Hee-hee!!!!