Tuesday, June 1

Foto's

No. 13

Ons het vir Miekie die adres waar sy bly geleer. 989 Zeeruststraat, Faerie Glen, Pretoria.

As sy vir ons kwaad is, sê sy "Ek gaan nie meer by 989 bly nie. Ek gaan nou by 13 bly. Gaan laai my by 13 af!" So het 13 nou gesinsmond geword, en so bly alle stoute kinders en skelms nou altyd by nommer 13.

Daar's 'n eensame inrypad hier bo teen die berg (die enigste ingang aan die berg se kant van die straat). Elke keer as ons daar verby ry, sê sy met groot oë: "Oeeeee... hier's ons nou by nommer 13..."

Bome

My kind het 'n groot belangstelling in bome. Tussen 2 en 'n half en 3 het sy die volgende bome vlot leer ken:

bloekombome, sipresse, koorsbome, olyfbome, piesangbome, populiere, palmbome, papierbas doringbome, luiperdbome, jakarandas, wilgerbome, ficus, bougainvillas, kraanvoëlblomme, kapokbome, aalwyne, akkerbome, dennebome.

Jy sal haar wraggies nie uitvang met enigeen van bogenoemde nie.

As ons deur die strate ry, sê sy "mamma, kom ons leer nog bome". As ek nie vinnig genoeg 'n nuwe boom kan kry en die naam onthou nie, neem sy oor en leer vir my. Dan kies sy enige struik, en kom met 'n naam daarvoor op.

Nog sêgoed

Sy dra nie 'n broek of 'n baadjie sonder om iets in elke sak te bêre nie. 'n Sak mag nie leeg wees nie. So is daar tans oral 'n mengelmoes van artifacts op die snaakste plekke te vind (soos in die filter van die tuimeldroeër).

Hierdie goedjies word genoem "al my kosbaarste goedjies", of "my belangrikste goedjies".

Haar "gunsteling kleure" is geel en pienk, in volgorde van prioriteit. Dit maak nie saak hoe iets proe of lyk nie, sy kies altyd eerste die geel... en daarna die pienk. Sy dra net geel en pienk panties, die ander bly onaangeraak, en sal so oorstaan vir die volgende generasie.

Sy verwys ook daagliks na die "klein kiemietjies". Dis nou as sy juk, of tande borsel, of iets nie wil eet nie, of aan haar naels torring. Dan is alles die klein kiemietjies se skuld.

As ons bad, sê sy elke keer "nou is my lyfie so sag soos 'n baba se boudjies".

Wêreldbeker sokker

Die sokkerkoors het vir Miekie beet. Sy vra (en bid) al twee weke lank vir haar eie geel sokkerhempie.

Ek het laas naweek oral in die winkels daarna gesoek, maar kon nie 'n klein hempie vir 'n 3-jarige meisietjie kry nie. Soos sy toe sê "die sokkerhempie kruip vir ons weg".

Nou die dag by die robot is daar toe sowaar 'n vendor wat die klein geel hempie voor die venster rondwaai.

Dadelik gil Miekie "mamma - stop DADELIK. Daar's my sokkerhempie!!! Ek summon die vendor na die naaste ATM, betaal 'n hele R70 (hy budge nie met 'n sent nie...), en net daar, in die middel van die winkel, trek Miekie haar rokkie uit en die sokkerhempie kom oor die kop. So het sy geslaap met die sokkerhempie, is die volgende 2 dae daarmee skool toe, en nog nooit het ek so baie keer gehoor "mamma, my hartjie is SO bly vir my geel sokkerhempie" nie.

Dis 'n week later, en die thrill is nog steeds nie verby nie.

Harde werk en 5 katte

Toe Pa bid "Help vir Pappa en Mamma by die werk vandag sodat ons geldjies kan verdien om kossies te koop", onderbreek Miekie met "Jesus, dankie, ek wil net hard werk by my skooltjie met my speelgoed en met my maatjies en vir my 5 katte sorg, amen."

Dit laat my besef hoe belangrik is speel vir 'n kind. Dis wat hulle wêreldjies laat wentel.

Die 5 katte feature tans groot. Hulle het elke dag ander name en gaan oral saam. As ons in die kar ry, ry hulle saam bo op die dak. As ons kerk toe gaan, neem sy 'n botteltjie met water saam vir die 5 katte wat onder die kerkbanke bly. Haar verhaal aan enige vreemdeling begin altyd met "ek het 5 katte...."

3 stoute konings

'n Storie: ek was gisteraand moeg vir die Ou Testament se ritse konings & kronieke, en blaai toe deur na die nuwe testament van Miekie se Bybelboek. Lees die storie van Jesus se geboorte, die wyse manne en engel wat aan skaapwagters verskyn. So kom ons by Herodes wat die babas wou doodmaak.

Miekie stop my angstig en vra "mamma, wat is hierdie koning se naam?" Ek sê "Herodes". Toe vra sy "Mamma, wat was daai koning se naam nou weer van die Israeliete in Egipteland wat ook die babas doodgemaak het en toe sit Moses se mamma hom in die mandjie in die riete? (let op die een lang sin.) Toe sê ek dit begin met "f". Dadelik onthou sy Farao. Toe sê sy "en daai ander stout koning wat die langste van al die manne was, se naam is Saul." En toe "Daai drie konings moet almal in die HOEK gaan sit."

Baie oulik vir 3 jaar oud :)