Friday, October 29

Oktober update

Miekie sing nou een oggend in die kar 'n liedjie wat sy by die kleuterskool geleer... iets oor 'n sondaar, en vra my toe "mamma, weet jy wat is 'n sondaar?"  Nee, sê ek, vertel my.  Toe verduidelik sy met groot armbewegings van die een horison tot by die ander: "Mamma, God vat die son, dan sit Hy hom daaaaar..."

Vanoggend is sy heel olik en ek neem haar saam werk toe. Ek sit vir haar 'n Moby Dick video op en minute later kom sy huilend by my kantoor in en kom vra hoekom Moby se walvismamma dood is.  Ek verduidelik dat die seerowers vir Moby wou skiet met hulle pyltjies, en toe het Moby se mamma voor hom ingespring dat die pyltjies eerder vir haar tref en nie vir hom nie.  Toe sê ek by dat ek dit vir haar ook sal doen, en dat dit ook is wat Jesus vir ons gedoen het toe hy aan die kruis gesterf het - om ons te red.

Sy was heeldag huilerig en toe kom dit nou hier by die huis uit.  Huilend kom sit sy op my skoot en sê "mamma, ek wil nie hê jy moet doodgaan nie, want ek gaan jou te veel verlang.  Ek gaan jou verskriklik mis." Ek sê toe ek gaan nêrens heen nie, en ek gaan beslis nie nou al doodgaan nie.

Toe sê sy "maar mamma, ek het gehoor by die werk jy sê jy sal vir my ook doodgaan soos Moby se mamma en soos Jesus.  Ai tog. En die volgende oomblik begin sy bid (met handjies saamgevou): "Jesus, jy moet asseblief nie my mamma laat doodgaan nie want ek gaan dan te alleen wees.  As sy doodgaan moet jy my ook asseblief laat doodgaan en dan gaan ek saam met haar tot by die hemel en dan hou ek haar styf vas en sy hou vir my vas en dan is ons vir altyd bymekaar. Dankie Jesus. Amen".

No comments:

Post a Comment