Friday, October 29

6 maande later

Dis amper ses maande later, en haar 5 katte feature nog daagliks op 'n groot manier.  As ons kerk toe gaan word daar kos en water vir die katte (wat onder die kerkbanke bly) ingepak. Verder bly die 5 katte in feetjieland en een van die 5 is die stoute kabouter wat alles aanvang (wat sy seker self heimlik begeer om te probeer).

Sy het nou haar eie kamer - baie mooi - en so kom ons agter sy is eintlik 'n pyn so perfeksionisties is sy.  Elke dingetjie is op sy plek, en daar's nie 'n manier sy slaap onder die duvet nie, want dan is haar bed deurmekaar.  Elke oggend vroeg kom maak sy my wakker, dan is die bed reeds amper perfek opgemaak en ek moet net die laaste hoekies kom regtrek.  Niemand mag aan haar "kosbare goedjies" raak nie.  So preek sy ook vir Beatrice om glad nie aan die asblik of enige van haar goedjies te raak nie.  Die honde mag glad nie daar ingaan nie, en dis omtrent haar klein koninkryk.

Ek moet vertel van Wolfie.  So maand gelede kom ek een oggend agter sy is te stil.  Ek kry haar in die TV kamer waar sy doodstil op 'n stoel sit en ek voel die hare op my kop rys.  Sy kom toe saggies nader en sê ek moet asseblief kom kyk want daar is 'n groot probleem met Wolfie.  Sy vat my aan die hand kamer toe en trek die duvet van ons bed af. In die bed lê Wolfie in 'n plas bloedplasma, met 'n waslap netjies oor die lyfie gevou. Dit blyk toe sy het Wolfie van die boonste verdieping af laat val, deur die trap tot heel onder.  Self afgeloop en hom daar gaan optel en in die bed kom verpleeg.  Ek het my in 'n panic ingeskrik en die hondjie (wat lê en hyg na asem, ruggie pap en so te sê dood) in 'n handdoek toegevou en in my pajamas dierehospitaal toe gejaag.  'n Dag later moes ek die call maak om hom te laat uitsit, met breinskade, gebreekte ruggie, blind, ens.

Dit het my dae gevat om min of meer to terms te kom met wat gebeur het, en ek kon nie verstaan dat Miekie so blaze is daaroor nie.  Ek het verduidelik dat Wolfie nou in die hemel is, en dat ons baie baie hartseer is oor wat gebeur het, maar dat dit 'n ongeluk was en dat Wolfie niks meer einas in die hemel het nie.

Tot so 5 dae later toe sy een oggend baie vroeg vreeslik huil en ek haar in die bed aantref terwyl sy haar arms desperaat na bo uitsteek en skree "JESUS! JESUS! Gee my Wolfie vir my terug! Ek wil my Wolfie nou dadelik hê! Asseblief gee my Wolfie vir my terug, NOU Jesus!"  Dit het my hart in stukke gebreek en ek het besluit ek gaan haar maar net daardeur vashou en troos.  Sy het 'n hele halfuur lank verskriklik gehuil en ek het haar net vasgehou en gesus en haar haartjies gevryf en verduidelik dat Wolfie oraait is in die hemel, en dat ons hartseer ook weer sal beter word.  Sy het gevra of Wolfie regtig weer kan loop, en ek het gesê ja, en toe het sy met die trappe opgeloop en 'n raampie met 'n foto van haar en Wolfie in die kamer gaan haal en vir my gebring en gevra "maar mamma, HIERDIE Wolfie, kan HIERDIE Wolfie regtig weer loop?"  Ek sê toe ja, en besef dat die skuldgevoelens haar nou begin ry.  So het sy die raampie met die foto vir 'n week elke oggend saamgedra skool toe, en toe op 'n dag sê sy vir my ek kan die raampie maar vandag by die huis los.  Ek vra toe of sy nie maar die raampie wil saamvat nie, en toe sê sy heel kalm "toemaar wat mamma, as ek te veel na Wolfie verlang sal ek sommer net aan hom dink."

No comments:

Post a Comment